MEER OOR

Hallo!

Ek is Marika van Heerden en ek woon die afgelope 20 jaar in Johannesburg. Ek is getroud met ‘n Karooklong en het 2 baie oulike kinders! Ek het in Namibië groot geword en toe ek en my man mekaar hier in die betonstad raakloop, het ons geweet ons kan die pad verder gerus maar saam aandurf – ons het altwee sand in ons are!

wat_se
Kliek hier om die artikel in Lééf-tydskrif te lees!

Ons boer met dorperskaap in die Boesmanland en wanneer ek op hierdie eenvoudige, gestroop-van-fieterjasie-plek aankom, roer my onderste waters van lekkerte vir my taal. Hier is ek na aan die Here se aarde en kry ek tyd, lus en inspirasie om die dinge binne my, uit te skryf. Dis ook hier waar ek die eerste storie geskryf het. Toe ek ‘n paar jaar gelede die pad saam met God begin stap het, het ek begin deur my hart voor Hom uit te stort. Nes Hanna, Samuel se ma, het ek ook seker vele male soos ‘n dronk vrou gelyk wanneer ek voor die Here gelê het! Snot en trane, maar in my geval ook ontnugter, vraend en nukkerig! Deur my hart voor die Here uit te stort, het ek die heel veiligste verhouding wat mens ooit sal betree, betree! God soek ons harte.