BOEKMERKE / TAGS

CD1 – WOORDE

woordeWoorde, is ‘n produksie met vyf vertellings, stories of openbaringe. Dit word aangebied deur die skrywer van hierdie stories, Marika van Heerden. Mariëtte Galjaard, sangeres en liedjieskrywer, wat gereeld voor gehore op kunstefeeste optree, het vir elke storie ‘n liedjie geskryf en getoonset.

Die stories bevat hedendaagse elemente en antwoorde op vrae en knope in ons lewens. Dit is vertellings waar ons hoor van God se betrokkenheid by uitgemergelde ma’s, Sy aandeel wanneer droogte die Karoo tref, die sisteem waarbinne baie van ons groot geword het en hoe ons persepsie van God ons lewe dikteer.

Wat gemaak as verhoudings begin skeefloop met mense naby ons? Daar is selfs iets van Vader Kersfees.
Met baie humor, erns en selfs ‘n tikkie sentiment, vat hierdie treffende stories ons op pad terwyl ons besef, ons kan maar ontspan, die lewe is nie altyd so verskriklik nie! Man of vrou, hier is iets vir jou om oor te dink, te lag en saam te vat.

CD2 – NOG WOORDE

cds2Nog Woorde, het soos die eerste produksie, Woorde, nuwe vertellings, stories of openbaringe. Die cd bevat egter ‘n bonus-storie en liedjie. Marika van Heerden vertel die stories en Mariëtte Galjaard, sangeres en liedjieskrywer, het vir elke storie ‘n liedjie geskryf en getoonset.

Luister na vertellings waar ons verras word in die Karoo deur God se fyn beplanning vir Sy Skepping – waarvan elkeen van ons onmisbaar deel is, waar ons hoor hoe God se Gees Homself in ons kom vas trap en waar ons in die verre Noorde van ons land, ‘n man ontmoet wat ons herinner daaraan dat God ‘n ieder van ons se name ken!

Kom hoor hoe ons ook soos die Israeliete deur die aardse woestyn moet reis, en ook hoe ons vasgepen kan word deur die vraag, waar God is te midde van die choas op hierdie aarde? En as jy ooit ‘n voorstel gehad het vir ‘n elfde gebod, hoe klink: “Jy mag jouself nie met ‘n ander vergelyk nie!”

Met humor en erns laat hierdie stories ons bietjie stilstaan, dit laat ons lag en dit laat ons besin. Hier is iets vir man of vrou om oor te dink, en saam met jou te vat. O ja, en om te gaan uitdeel vir ander. In hierdie gebroke wêreld, is dit waar ons genesing begin…